Psalm 119:105. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
GEDAGTE
Psalm 119 is die langste hoofstuk in die Bybel. Dit is geskryf deur ’n man wat baie moeilike, en baie donker tye beleef het en die hele Psalm is sy gebed tot God.
Elkeen van ons beleef ook soms donker tye. Daar kom tye in ’n mens se lewe dat dit voel asof jy net nie uit die duisternis kan ontsnap nie. Jy voel vasgevang in ’n web van krisisse en hoe harder jy probeer om jou daaruit los te wikkel, hoe meer voel jy daarin verstrengel. Dis soms moeilik om weer die lig te vind.
Dit is dan wanneer ’n teks soos vandag s’n vir ons troos gee, U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my lewenspad.
Is dit nie wonderlik nie? ’n Lamp vir ons voete, sodat ons kan afkyk om te sien waar ons die volgende tree op hierdie rotsagtige pad moet neem. En ’n lig op ons pad, sodat ons kan opkyk en sien waarheen die pad lei.
Daarvoor het die Here Jesus ook vir ons die lig gebring. Hoor wat sê Jesus in Johannes 12:46: “Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” Reg gehoor: God ons Vader het sy Seun gestuur om ons uit die donker te ruk. Só help Hy ons in die lig leef. Nie uit eie krag nie, maar slegs deur die genade van Jesus vind ons weer die lig.
GEBED
Soos ’n flits in die donker is die Bybel vir my; dis ’n lig wat my wys hoe ek naby God kan bly.
Ek is lief vir U, Heer, ek wil hoor wat U sê, want u woorde leer vir my om te doen wat U wil hê.
Amen