Johannes 1:9. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.
Een van die interessante eienskappe van lig, is dat lig onsigbaar is. Ons kan nie lig self sien nie, ons sien slegs wat deur lig getref, of verlig word. Hierdie versie maak dit duidelik dat Christus die ware lig is. Ons skyn nie met ons eie lig nie. Maar omdat lig self onsigbaar is, kan ons maklik verward raak tussen die lig self en die voorwerp wat verlig word. Ons kan maklik dink die maan skyn met haar eie lig, soos wat mense vir duisende jare geglo het. Vandag weet ons dat die maan ’n dowwe stuk stof is, wat net die lig van die son reflekteer. So kan ons ook begin dink dat dit ons eie lig is wat so helder skyn en nie raaksien dat ons ook maar dowwe stofwesens is nie, wat slegs skyn omdat ons verlig word deur die lig van Christus.
Daarom maak Johannes later in die hoofstuk twee belangrike punte. Toe Christus mens geword het in Jesus, het sy eie mense Hom nie erken as die ware lig nie. Tweedens, vir die wat wel die oë het om te sien dat Jesus Christus die ware lig is wat elke mens verlig, het Christus die onsigbare lig van God, sigbaar kom maak. Daarom skryf Johannes in vers 18: “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”
Mag ons vandag besef dat ons nie met ons eie lig skyn nie. Mag ons raaksien dat Christus die lig is wat elke mens verlig. Mag Christus vandag en elke dag, God vir ons bekend maak, sodat ons in ’n lewende verhouding met Hom kan leef.
Gebed
Here, ons dink so maklik dat ons met ons eie lig skyn. Ons kyk so maklik mis dat U die lig is wat elke mens verlig – U is die bron van alle lewe. Help ons om vandag meer en meer bewus te word van U lig, sodat U al hoe meer bekend kan word in ons lewens en in die wêreld.
Amen