Psalm 139:11-12: Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.
Refleksie
Die Psalmdigter reflekteer hier oor God se teenwoordigheid in die wêreld. Daar is nêrens waarheen ons kan vlug, waar God nie reeds is nie. Daar is ook nog ’n dieper refleksie in hierdie vers, wat handel oor ons belewenis van die wêreld as lig en donker. Ons vergelyk selfs lig en donker soms met goed en sleg. Hierdie vers nooi ons uit om te besef dat wat vir ons lig en donker is, nie noodwendig vir God lig en donker is nie. Ons behoort nie te vinnig te wees om die wêreld in boksies van lig en donker te plaas nie, want God werk nie noodwendig volgens ons kategorieë nie – vir Hom is die nag so lig soos dag en die donker so goed soos lig.
Mag ons rus vind daarin dat God soveel groter is as ons feilbare, beperkte belewenis van die wêreld.
Gebed
Here, ons verdeel die wêreld so maklik in boksies van lig en donker, maar vir u is die nag so goed soos dag. Mag ons weet dat waar ook al ons gaan, u reeds daar is. Mag u ons help om met U oë te kyk na die wêreld rondom ons.
Amen.