Gedagte vir die dag | Woensdag 7 Desember 2022

Ons is in die tyd van Advent. Advent is ’n tyd waar ons wag op die koms van Jesus. Een metafoor wat Jesus se koms beskryf, is ’n lig wat skyn in die donkerte. Hierdie volgende week gaan ons stilword by verskillende teksgedeeltes oor lig en donker.

Op die heel eerste bladsy van die Bybel, lees ons in Genesis 1:1-2: In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

 Refleksie

Die heel eerste keer wat ons God ontmoet in die Bybel, is terwyl Hy in die donkerte oor die diep waters sweef. Toe daar nog nie eers lig was nie, was God teenwoordig in die donkerte. Donkerte is vir baie ’n plek van vrees, of selfs boosheid – iets wat bedreigend is. In die teks wil dit nie voorkom asof God bedreig voel deur die donkerte nie en dalk selfs tuis voel daarin. Hoe laat dit jou voel om te dink dat God nie bedreig voel oor donkerte nie?

Die donkerte van die diep waters in Genesis 1 word juis die plek waar God sy skeppingswerk begin. Die donkerte is die geboorteplek van die skepping. As dit waar is vir die skepping, is dit dalk ook waar vir die donkerte in ons eie lewens.

Gebed

Here, u was daar voor daar enige iets was. Toe die aarde nog woes en donker was. In die donkerte het U, u skeppingswerk begin. Mag U ook in die donkerte van ons lewens skeppend wees, om nuwe lewe en lig te laat skyn

Amen