Gedagte vir die dag | Vrydag 2 Desember 2022

Jesaja 4:5-6. Die Here sal die inwoners van Sion reinig van hulle wandade en Hy sal die bloed wat aan die hande van Jerusalem kleef, verwyder deur die Gees wat oordeel en verteer. Dan sal die Here bedags ‘n wolk en snags die rook en glans van ‘n vlammende vuur skep oor die woonplek op Sionberg en oor al die bymekaarkomplekke daar. Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. 

Hoe kyk ons na verandering waarvoor ons nie self gekies het nie? Omdat ons voel dat ons daarin geforseer word, is dit nie iets waaroor ons positief is nie. Vandag se teks herinner ons dat ons eie gebrek aan insig en aksie nie God weerhou om te doen wat hy in ons tyd gedoen wil kry nie. Kyk dus vir ’n oomblik verby die gedagtes van God se oordeel wat ons in tekste soos vandag se teks raak lees en sien die Here se omgee wat deur ons eie hardkoppigheid wil breek. “Sy teenwoordigheid sal alles beskut”. Vir die inwoners van Jerusalem het verandering dikwels op die mees onverwagte tye en deur die mees onverwagte mense en omstandighede deurgebreek. Hoe is die Here soortgelyk in ons hede besig? Raak bewus dat die Here nie net deur ’n kerkdiens, preek of Bybelstudie met ons besig is nie. In sy groot wysheid is God vandag in sy skepping besig om mense op reis te neem.

Gebed

Here, ons bid so maklik dié bekende lied:  “Doen slegs U wil Heer, U wil met my, U pottebakker, met my die klei, vorm my en maak my net soos U wil, op U bly wag ek nederig en stil”. Tog is dit nie vir ons maklik om verander te kan word nie – veral nie as dit bots met hoe ons dink, of voel nie. Gee ons daarom vandag insig in die wyse waarop U besig is in die groter gebeure van die dag. Help ons om U te vertrou in die midde van skynbare chaos en gee ons ‘n perspektief van U omgee vir hierdie groter skepping waarvan die kerk en ek maar net ‘n klein deel is.

Amen.