Psalm 130:1-2. Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.
Daar is ’n ou tradisie wat ’n generasie gelede meer algemeen was, is aan die verdwyn onder hedendaagse Christene. Dit is om te kniel en jou hande te vou as jy bid. So is baie ouer mense deur hulle ouers geleer om te bid. In die Ou Testament lees ons selfs dikwels dat mense wat intens bid plat op die vloer gelê het met hulle gesigte na die grond. Vandag se teks praat met ons oor hierdie houding. Om nie net met jou verstand te bid en iets te vra nie, maar toe te laat dat jou hele wese met God praat en om in die proses verander te word. Daar is nie ’n vaste reël, of ’n resep as ons bid nie, behalwe dat ons uit die diepte van ons lewe na God roep. Maak dit gereeld deel van jou lewe. Sonder jou af en gee jouself tyd om net stil te word en jou gedagtes skoon te maak van die alledaagse dinge wat dit in beslag neem. Laat toe dat dié lang stilte jou wese ondersoek en jou uitbring by gedagtes en gevoelens wat diep in jou weggesteek lê en waarvan jy nie eens bewus is nie. Gee jou tyd om te luister, want dit is hier waar God deur gedagtes, perspektiewe en aanvoelings met ons praat.
Gebed
Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek vandag in hierdie wêreld kan speel om dit anders te maak. Maak my gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe lewensmoontlikhede, dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van U troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid.