Gedagte vir die dag | Dinsdag 27 Desember 2022

Goeiedag. Eergister was Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus kon herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Dinsdag 27 Desember en ons lees weer een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.

 

Stille nag

 

so sit hy daar teen die hang

tussen die skape onder die sterre

en met die aardsheid swart onder sy naels

in die fyn lyntjies van sy vel

en dieper

om hom hang sy reuke

rook en veld en sweet en skaap

geëelte vingers krap deur die taai hare

asof dit ‘n greep wil kry

op die helder wasigheid

die wasige helderheid

van die herinnering aan daardie nag

die krip die kind die stemme wat sing,

en die woorde

die woorde van die lied wat hom bly trek

soos ‘n bos in die veld wat aanhou brand

aanhou brand maar nie uitbrand nie

mense in wie Hy ‘n welbehae het

dit gly tussen sy vingers deur

hy sukkel om dit te vat

dat Hy van mense hou

mense met swart onder die naels

en dieper

mense wat ruik

na rook en sweet en veld en skaap

dat Hy van hulle hou

so sit hy daar in die nag

dan trek hy sy sandale uit

en hy begin saggies sing

ere aan God

ere aan God

 Neels Jackson