Psalm 5:2-3. “Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. 3Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.”
Daar kom dae dat dit vir jou voel jy wil nie vandag uit die bed uit opstaan nie. Jy bekommer jou oor al die onbetaalde rekeninge, of jy is oor jou gesin bekommerd, of jy is bekommerd oor jou gesondheid en so kan ons voort gaan. Die bekommernisse en frustrasies van die lewe maak jou depressief en jy voel of jy net van alles en almal af kan weg vlug. Dan voel dit ook nog asof God Sy rug op jou gedraai het.
Iets wat jy in sulke tye moet onthou is dat God ten volle bewus is van alles wat in jou lewe plaasvind, al lyk dit miskien nie vir jou so nie. Jy is Sy kind en Hy gee oneindig baie vir jou om. Hy sal aandag gee aan jou hulpgeroep. Die Here hoor elke sug en elke hulpgeroep wat uit jou hart uit opstyg en op sy tyd en op sy wyse sal hy uitkoms gee.
Moet nooit moed opgee nie. Lees jou Bybel vir moed. Praat met die Here en stel jou oop vir die influistering van die Heilige Gees. Hy sal vir jou die nodige ondersteuning gee om deur hierdie krisis van jou te kom
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie dat U na my smeekgebede luister en dat ek U kan vertrou dat U op die regte tyd vir my ’n uitkoms sal gee. Amen