Gedagte vir die dag | Maandag 28 November 2022

Nahum 1:7 “Die Here is goed, Hy is ‘n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.”

Martin Luther King het in sy leeftyd talle dreigemente van rassistiese Amerikaners ontvang en het dikwels vir sy lewe en die van sy gesin s’n gevrees. Hy is ook later gearresteer en in die tronk gegooi omrede hy vir die regte van Afrikaan-Amerikaners in Amerika geveg het.

In sy boek Spirituele oorlewing haal Philip Yancy die volgende uit een van Martin Luther King se preke aan: “Ek het op ’n punt gekom waar ek dit nie meer kon hanteer nie. Ek was swak en en het ontdek dat godsdiens vir my ’n werklikheid moet word, ek moes God persoonlik leer ken.” Die preek eindig dan met die woorde: “Die Here het belowe om my nooit alleen te laat nie. Nee, nooit alleen nie.” Hierdie woorde was genoeg om vir Martin vir die volgende 13 jaar van sy loopbaan te dra.

Die Here gee hierdie belofte ook aan elkeen van ons. Hy sorg vir die wat by Hom skuil soos ons in vandag se teks gelees het. God is deur sy Gees altyd by ons en is daar om ons in elke oomblik van ons lewe vir te help.

GEBED

Hemelse God en Vader, ek plaas my hoop in U. Dankie dat U my nooit alleen sal los nie, maar elke oomblik van my lewe by my sal wees.

Amen