Gedagte vir die dag | Saterdag 26 November 2022

Galasiërs 6:2. “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”

In God se geloofsfamilie dra niemand alleen aan hulle laste nie. Almal help mekaar met hulle unieke laste. Die laste waarvan Paulus hier praat, dui letterlik op ’n swaar gewig, maar  figuurlik verwys dit na geestelike laste, dit wil sê, sondes wat dreig om gelowiges te laat struikel (v1). Ons sondes, volgens Paulus, plaas ’n las op ons wat ons kan vergruis.

Die Galasiërs, en ons vandag, moet mekaar help en ondersteun om hierdie laste te dra. As die een val, moet die ander hom of haar ophelp. Ons moet egter baie versigtig wees dat ons self nie ook struikel en begin sondig nie.

Hoe dra ons mekaar se geestelike laste? Deur mekaar te waarsku en te vermaan teen daardie aspekte van ons lewe wat nie volgens God se wil is nie. As ons dit doen, sê Paulus, gee ons uitvoering aan die wet van Christus. Liefde is immers die vervulling van die wet en daar is geen groter liefde wat ons aan iemand anders kan bewys as om hulle te waarsku teen die gevare van sonde in hulle lewe nie.

Martin Luther het by wyse van spreke gesê gelowiges moet sterk
skouers en bene hê sodat hulle mekaar se swaar laste kan help dra. Dan het
ons lief soos Jesus liefhet. Dit is omgee vir mekaar. Dit gee aan die
lewe diep betekenis. Henri Nouwen het gesê: “Wie iemand anders teen ‘n opdraand uithelp, kom self ook bo!” . Dra mekaar se laste… en doen so wat Jesus van jou verwag.

GEBED

Hemelse God en Vader, help my sodat ek ander kan help. Maak my oë oop dat ek kan sien wie my hulp nodig het. Amen