Deur: Ds. Marius Schoombie
Die selgroep vir jong volwassenes kom gewoonlik op ’n Donderdag bymekaar om saam deur die Bybel te reis. Maar een Donderdagaand in Oktober het dié jongklomp Bybelstudie vir die bou van boekrakke verruil, want soos een van die groeplede opgemerk het: “Soms moet ’n mens boekrakke bou eerder as Bybelstudie doen”.
Stellenberg-gemeente het ’n jare lange verbintenis met die Klipheuwel-gemeenskap, spesifiek by die oprigting van Shiloh se vroeëkinderontwikkelingskool. Die skool dien ook as gemeenskapsentrum waar verskeie programme vir gemeenskapslede aangebied word. Een van hierdie programme is die huiswerkklub, waar ’n veilige ruimte geskep word vir kinders om hul huiswerk in te doen. Die huiswerkklub was gelukkig om onlangs ’n groot skenking boeke te ontvang, maar toe ontstaan die dilemma dat daar geen enkele boekrak was om die boeke op te berg nie. Dié toedrag van sake het die jong volwassenes genoop om die bul by die horings te pak en eiehandig boekrakke vir die huiswerkklub te bou.
Die selgroep het juis in daardie tyd in Jakobus 2:18 gelees: Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.” Op hierdie klein en tasbare wyse herinner Stellenberg se jong volwassenes mekaar dat die Woord lewend geword en onder ons kom woon het, sodat ons liefde op ’n sigbare manier kan uitleef.
As jy wil deel word van ’n jongvolwasseneselgroep, kontak gerus die kerkkantoor by sunet@stellenberg.co.za of as jy meer wil weet hoe om betrokke te raak by hulp vir Klipheuwel, navrae@stellenberg.co.za.