Romeine 12:2. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Iemand het eenkeer geskryf dat ervaring jou leer om die wanklanke te hoor – amper soos ’n baie musikale persoon wat tydens ’n konsert ’n vals noot hoor. Paulus herinner ons dat die Heilige Gees besig is met ’n proses van metamorfoses in ons lewens sodat ons kan leer om te onderskei. As ek aan “onderskeiding” dink, kom die woord “sif” by my op – om te sif wat in jou lewe sinvol en goed is, en na dit wat ’n gejaag na wind is; om tussen woorde en dade te kies wat sal pas by die oomblik.
Die skrywer Liesel Joubert herinner ons dat onderskeiding is nie ’n spontane besluit nie. Die Griekse woord “toets” in Romeine dui op die toets van metale. Ek dink dat Paulus ons in hierdie gedeelte uitnooi om die Gees toe te laat om ons “beproewers” te maak, sodat ons kan onderskei wat goed is en wat is God se wil is. Maar daar is ’n oomblik voor hierdie toelating en dit is die verlange om nie jou wil nie, maar God se wil na te jaag. Ek dink as ons eerlik is met mekaar kom hierdie verlange nie so vanselfsprekend nie. Mag die Here ons help in hierdie tyd van onderskeiding om te sien wat is goed en mooi en heilig is.