Feesmarkvreugde is onblusbaar

Foto: LInks is Karen Visagie (organiseerder) en Sheree-Lee Gildenhuys wat gedurende die mark as administratiewe assistent behulpsaam was.

Dit lyk asof niks – nie eers beurtkrag of hoë brandstofpryse  – die opwinding en unieke gees wat met Stellenberg se feesmark gepaardgaan, vanjaar kon demp nie.  Ons word die afgelope 27 jaar met besoekers geseën wat jaar na jaar die mark ondersteun en vanjaar was geen uitsondering nie.

“Die mark het ’n lewe van sy eie,” sê Karen Visagie, feesmarkorganiseerder.  “Ons maak planne en probeer om elke ding op sy plek te hê, maar uiteindelik, wanneer ons die deure op die eerste markdag oopsluit en mense begin instroom, ontwikkel die mark regtig sy eie energie.

“Ons is baie dankbaar dat die mark vanuit ’n verdienste-kant, die mikpunt waarvoor ons begroot het, gehaal het.  Daarby is ons ook saam met ons uitstallers opgewonde dat hulle harde werk beloon, is.  Van ons uitstallers wat besonder goed gevaar het, was mense in die dekor-kategorie.  Die seekos-paella, salami en tuisgemaakte kase was vanjaar ook topverkopers.  Ek dink ’n hele paar mense kan vanjaar silwerjuwele in hulle Kerskouse te wagte wees, want ons juwele-uitstallers se verkope het bo verwagting goed gevaar.  Ek is ook opgewonde oor een van ons nuwe uitstallers wat vir die eerste keer sy braaitoerusting hier ten toon gestal het en besonder goed ondersteun is.

“Van ons uitstallers is al 80 jaar en ouer en vanjaar was ons jongste uitstaller ’n 12-jarige entrepreneur wat skryfbehoeftes uitgestal het.  Besoekers het die mark se vloei en lekker breë gange gereeld gekomplimenteer.  Ons het 12 kasregisters gehad en ’n ekstra vier wat toegesê is aan klante wat minder as vyf items wou betaal.  Daar was dus nooit lang rye by die kasregisters nie, selfs nie eers op Saterdae nie.

“Besoekers in rolstoele kon ook gemaklik in die mark rondbeweeg.  Jacques, een van die gemeente se terreinwerkers, was baie behulpsaam en gewillig om besoekers in rolstoele met groot geduld deur die mark te stoot.  Ons 77 feesmarkpersoneellede was almal staatmakers en het met hulle toewyding sigbaar ’n gees van diensbaarheid by die mark uitgebeeld.”

Suid-Afrikaners se voorliefde vir lekker eet het verseker dat die restaurantarea se verkope ook nie in die slag gebly het nie.  Volgens Karen was die groot gunstelinge op die spyskaart pizzas, pannekoeke, hamburgers en roosterkoeke.   Sy noem ook dat besoekers gehou het van die verskeidenheid maaltydopsies wat die kosstalletjies aangebied het.

“Dankie aan al ons lidmate wat dié grootste fondsinsamelingsprojek van die gemeente ondersteun het,” sê ds. René Potgieter.  “Soos met die res van ons begroting, word ’n derde van die feesmarkinkomste ook na buite aangewend en ons vertrou dat ons daarmee ook mense buite ons gemeente se lewens kan aanraak en verbeter.  Die Jars of Hope-projek wat flesse met sopmengsels naby die kasregisters uitgestal en verkoop het, het die ongelooflike bedrag van R15 500 ingesamel.  Die fondse word vanuit die gemeente se hande-en-rande-fonds bestuur en sal vir die bedryf van sopkombuise en ander voedingsprojekte aangewend word.”

Nadat die feesmark vir drie jaar op ’n afgeskaalde vlak aangebied moes word, was dit ’n groot voorreg om weer vanjaar die mark in volgrootte te beleef.  Die kerkterrein is nou weer stil en die woelinge en energie wat met die samekoms van mense gepaardgaan, is ’n gemis, maar kort na Kersfees begin ons weer in groot afhanklikheid van ons Hemelse Vader saam dink en beplan aan 2023 se feesmark.  Mag sy groot genade ook in 2023 met ons wees.