Levitikus 25:3-4 ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes, maar die sewende jaar moet die hele land ‘n rustyd hê, ‘n sabbatsjaar tot eer van die Here.
In Levitikus 25 sien ons dat die ritme van die sabbat wat weekliks herhaal word, ook elke sewe jaar heel jaar lank onderhou moet word, waar niks gesaai of geplant mag word nie. Na elke sesde sabbatsjaar, dit wil sê elke 50ste jaar, word ‘n herstel jaar aangekondig waar slawe vrygelaat word, skuld afgeskryf word en grond herverdeel word.
Hier sien ons dat die Sabbat nie net oor rus handel nie, maar oor geregtigheid en herstel – nie net vir die mens nie, maar vir die skepping ook.
Ons lewe in ‘n wêreld waar historiese rykdom of skuld oor generasies heen opbou en groot ongelykheid tot gevolg het, waar mense vasgevang word in situasies waar hulle geen hoop het om te ontsnap nie, waar die skepping geen rus kry nie.
Waar sien jy dit raak? Dink jy die ons samelewing is regverdig teenoor almal? Dink jy wat die Here vir ons hier vra is regverdig?
Daar is vrae rondom of hierdie wet in Levitikus ooit so letterlik toegepas is. Vir ons lyk dit totaal onmoontlik.
Die ritme van die sabbat is nie net ‘n persoonlike uitnodiging vir rus nie maar nooi ons uit om deel te neem aan ‘n alternatiewe gemeenskap van rus en genade, waar skuld vergewe word, waar elkeen genoeg het en daar herstel en genesing vir die skepping is.
Dit is iets wat ons nooit alleen kan doen nie, maar slegs in gemeenskap. Die Here nooi ons om deur sy kerk, hierdie visie vir sy Koninkryk sigbaar te maak.
Gebed
Here, die wêreld waarin ons leef is onrustig. Ongelykheid, skuld, geweld en ongelykheid skep onrus vir so baie. Dankie, dat U ons deel maak van U liggaam, wat ’n ander manier van lewe moontlik maak. Mag ons die manier wees wat U geregtigheid, genade, liefde en vrede sigbaar word in die wêreld.
Amen.