Kom tuis in Psalm 84
“2 Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! 3 Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. 4 Selfs ‘n mossie het ’n nes en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God! 5 Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela 6 Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. 7 Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. 8 Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn. 9 Here, almagtige God, hoor my gebed, luister tog, God van Jakob! Sela 10 Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God; hou u gesalfde onder u sorg. 11 Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. 12 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. 13 Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!”
Psalm 84 is ’n spesiale psalm wat ons uitnooi om in Hom tuis te kom. Dit praat van ’n drie-maal welgeluksalige mens. ’n Welgeluksalige is volgens hierdie Psalm iemand wat in God se geselskap tuis is (vers 5). ’n Welgeluksalige is iemand wat in die geloof weet dat daar by God skuilplek is waar niemand jou kan bedreig nie (vers 6). ’n Welgeluksalige is iemand wat God se pad vertrou (vers 13).
Mag jy vandag tuiskom in die Here se teenwoordigheid, want één dag in Sy teenwoordigheid is beter as ’n duisend sonder Hom (Vers 11).
Gebed
Here, dankie dat ek tuis kan kom in U teenwoordigheid. Amen