Nadenkend oor Psalm 139
“1 Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4 Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”
Psalm 139 laat ons nadink, soos al die Psalms, nie oor wie God is nie, maar oor wie God vir ons is. Miskien moet jy mooi en lank oor die voorafgaande sin nadink, en seker maak dat jy dit goed verstaan en ook oor die implikasies daarvan vir jou geloof in God nadink. Psalm 139 konfronteer ons nie met ’n rasionele en wetenskaplike geleerdheidsgeloof nie, maar met ’n geloof-uit-en-in-en-van-die-lewe. Psalm 139 is ’n baie persoonlike getuienis van hoe één mens sy klein aardse tydjie interpreteer binne die groter ewigheidstyd. Hy sien sy klein lewe as iets wat hy bestuur binne ’n groter bestuur. Sy plannetjies funksioneer binne ’n groter plan. Alles wat met hom gebeur verstaan hy binne ’n groter Goddelike geheel.
Hierdie geloof word nie in ’n klaskamer gebore nie, maar in ’n binnekamer waar ’n mens oop is vir ’n verbasende ontmoeting met God en die goddelike. Dit gebeur eenvoudig onverwags en onbepland, en na die tyd is al wat jy weet, dat dit gebeur het. Só werk geloof. En dan vertel jy nie meer vir mense wie God is nie, maar vertel jy vir mense wie God vir jou is! Ek hoop jy is oop om mettertyd jou eie Psalm 139 te skryf.
Amen