Gedagte vir die dag | Maandag 3 Oktober 2022

1 Joh. 5:14. “Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.”

Een van emosies wat die grootste negatiewe impak op mense het, is die gevoel van alleenheid – om niemand te hê om jou hart mee te deel nie. Johannes herinner ons dat gelowiges nooit alleen hoef te voel nie. Hy verseker ons dat die Here na ons luister, dat ons die diepste begeertes van ons hart met Hom kan deel. Dalk het jy vandag iets op jou hart wat jy met niemand anders kan deel nie. Neem dan vandag ’n oomblik tydens gebed om dit met God te deel.

Johannes herinner ons ook dat wat ons vra, in lyn met God se wil moet wees. Dit is nie altyd duidelik of die dinge wat in ons harte leef, God se wil is nie. Daarom behoort ons onsself voortdurend te herinner dat my wil nie noodwendig God se wil is nie. Mag ons aanhou vra na wat God se wil is.

Daar is verskeie Psalms waar die digter dit so mooi stel, onder andere aan die einde van Psalm 19: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.”

Mag ons aanhou vra of ons gedagtes en ons begeertes vir die Here aanneemlik is, mag ons weet dat ons nooit alleen hoef te voel nie en mag ons die vrymoedigheid hê om ons harte met die Here in gebed te deel.

Gebed

Here, U ken my. U weet wat my onrustig en opgewonde maak. Help my om die begeertes van my hart in ritme met U wil te kry. Dankie, dat ek mag weet dat U na my luister en dat ek U kan vertrou om my op die regte pad te hou.

Amen.