Spreuke 10:2. Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God, red ‘n mens van die dood.
Ons dink dikwels nie daaroor na dat ons in die normale gang van die lewe waar ons op sig self niks verkeerd doen nie, besig is om onreg te pleeg nie. Ons verdien, deur harde werk, bloedsweet en selfs trane, ’n inkomste. Ons sit alles in om doelwitte te behaal en om ’n wins te maak. Dit is alles deel van ons strewe om doelgerigte en betekenisvolle lewens te lei. Maar in die proses maak ons baie foute wat onsself, ander mense en ons omgewing groot skade aanrig en ’n mens laat wonder . . . was dit alles die moeite werd gewees? Alhoewel ons niks op sig self verkeerd gedoen het nie kan ons met onreg besig wees omdat ons te veel druk op onsself, ander en God se skepping plaas. Alhoewel so ’n lewe doelgerig en winsgewend is, is dit nie volhoubaar nie. Iewers moet iets, of iemand ingee. Hoe raak hierdie gedagte vandag jou lewe? Hoe lank kan ons nog die pas volhou? Is dit waarmee jy besig is nie net goed vir jouself nie, maar ook vir ander en die skepping? Wat is die voorhandliggende dinge wat die Here jou in hierdie tyd uitwys. Moenie wag nie, begin daarmee.
Gebed
Here, help my om vandag my doel in u te vind, eerder as in rykdom, sukses of eer. Op die oog af gaan alles om my lewe goed, maar ek kry die aanvoeling dat ek nie veel langer so sal kan aanhou nie. En ten spyte daarvan storm ek net vorentoe. Wys my wat ek vandag moet doen om hierdie ’n plek te maak van vrede en geluk en nie van druk wat mense en u skepping versmoor nie.
AMEN