Kolossense 3:13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
So wat beteken die woord vergewe? Dit beteken letterlik om die rekord skoon te vee, om vry te stel, om skuld af te los. Wanneer ons iemand te na kom, soek ons hulle vergifnis sodat die verhouding herstel kan word. Niemand word vergewe omdat hy, of sy dit verdien nie. Niemand verdien om vergewe te word nie. Vergifnis is ’n daad van liefde en genade. Vergifnis is ’n besluit om iemand nie verantwoordelik te hou vir ’n daad nie, ongeag wat daardie persoon aan jou gedoen het.
Mens hoor so baie van mense wat sê dat hulle vergewe, maar dat hulle nie sal vergeet nie, of dat die wond sal genees, maar die litteken sal bly… Dit is so verkeerd, want die menslike brein is ’n kragtige orgaan. Deur te vergewe en nie te vergeet nie, veroorsaak emosionele bagasie wat vir jare saam met jou gedra word en jou uiteindelik ’n swaarmoedige en verbitterde persoon maak. Dis waarom die Here so klem lê daarop dat ons mekaar moet vergewe en vergeet, want Hy weet wat die gevolge van hierdie tipe denke vir ons as mens is!
Jesus is ons leidsman en as Christene behoort ons in sy voetstappe te volg. In Psalm 103:12 lees ons hoe God ons sonde vergewe: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” In Hebreërs 10:17 lees ons meer oor Jesus se vergewensgesindheid: “…en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” Ons behoort hierdie maatstaf te gebruik ongeag hoe moeilik dit ook al vir ons kan wees om te volg. Wie is daar wat jy moet vergewe?
GEBED
Here, dankie dat U al my sondes vergewe het. Ek wil ook vandag vir …………. vergewe.
Amen