Gedagte vir die dag | Saterdag 17 September 2022

Numeri 6:24-26. “Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

’n Erediens begin en eindig met ’n hoogtepunt. Dit begin en eindig met die seën van die Here. Die Here seën ons. Om die Here se seën te ontvang is elke keer ‘n hoogtepunt in ons lewens. Al God se beloftes – sy genade en liefde vir ons in Christus, word telkens weer met die uitspreek van die seën aan ons toegesê en bevestig. Dit is ‘n Goddelike geskenk wat net die Drie-enige-God aan ons kan gee. Net Hy kan ons werklik seën.

Die priesterlike seën van Numeri 6 het God self aan Aäron en die priesters gegee om die volk mee te seën. Tot vandag hou dit vir ons soveel betekenis in.

Die hele Bybel is vol gedagtes van God wat ons seën – van begin tot einde! Soos wat God se liefde ’n lyn regdeur die Bybel is, so is God se seën ook ’n lyn regdeur, ’n sentrale tema van die Bybel.

Heel aan die begin, by die skepping al, seën God die mens (Genesis 1:28).  Dis ook die kern van die verbond: dat God vir Abraham seën om ’n seën te wees (Gen. 12:1-3). Jesus begin die bergpredikasie deur dieper betekenis aan seën te gee (Matteus 5).  En Openbaring trek die seën deur tot heel aan die einde.

God se seën is deurslaggewend in die Bybel.  Dit is ’n kern aspek van God se plan.  God wil ons seën.

God belowe vir sy kinders seëning, maar wat beteken dit presies wanneer die Here jou self seën? Soms verwar mense hierdie seëninge van die Here met hulle eie wense en voorkeure wat waar moet word. Wanneer die Here jou seën, gebeur daar iets besonders met jou. As die Here jou seën, het jy ʼn heerlike belofte van die Here af ontvang, dat Hy mooi na jou sal kyk en jou sal oppas. Dat Hy altyd by jou teenwoordig is. Ontvang vandag ook hierdie seën oor jou lewe.

GEBED

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”

Amen