Gedagte vir die dag | Vrydag 16 September 2022

Psalm 62:2 “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. 3Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.”

Ons almal ervaar die druk van die sogenaamde “rat race”. Net wanneer jy dink dat jy besig is om te wen, dan is daar net nog iets wat jy moet doen. Ons moet leer hoe om rus te ervaar. Dikwels gun ons nie onsself die luuksheid van rus nie.  As ons fisieke rus nodig het, kan ons ’n uiltjie knip. As ons emosionele rus nodig het, kan ons met vakansie gaan. Waar vind ons egter geestelike rus? Hoe kan ons verligting kry vir die moeilikste lewenskwessies wat ons in die diepste deel van ons hart kwel?

Jy moet na God toe kom. God moedig ons herhaaldelik aan om na Hom toe te kom. “Kom,” is sekerlik een van die Here se gunstelingwoorde.

  • “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here…” Jes 1:18
  • “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom koop en eet;” Jes 55:1
  • “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” Mark 6:31
  • “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37
  • “Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” Op 22:17

God skep met rede die sewende dag as ‘n rusdag. Nie dat Hy noodwendig rus nodig gehad het nie, maar Hy het geweet ons het. Om gebalanseerd te lewe moet daar tye van rus wees. Rus van dit wat ons elke dag doen, wat dit ook al is, maar ook tye van refleksie oor ons lewens en oor God. Sonder hierdie tye word ons soos rotte op ’n wiel, ons hardloop al hoe vinniger maar kom nêrens nie. God het vir ons elke week so ’n dag gegee, kom ons gebruik dit vir die doel waarvoor dit gegee is en tot ons eie welsyn.

GEBED

Here, help my asseblief om oomblikke van rus in my lewe te skep. Oomblikke wat ek net by U voete kom rus en gevoed word deur U teenwoordigheid. Amen