
Deur: Ds. Marius Breytenbach
“I am not afraid of change; I am more afraid of staying the same. No problem can be solved from the same level of consciousness that created it” – Albert Einstein. Jim Rohn het weer gesê: “Your life does not get better by chance, it gets better by change.”
Ons glo dat ons hedendaagse bestaan deel uitmaak van die groter realiteit van God se koninkryk en dat ons voortdurend daarbinne deur God gevorm word, maar ons moet egter ontvanklik en bereidwillig wees om te verander. Op watter wyse is die Here dalk vandag besig om jou te omvorm en hoe word die mense wat daagliks om jou leef daardeur beïnvloed? Josef se verhaal in Genesis 37-50 bied aan ’n mens ’n interessante perspektief van hoe klein veranderinge in onverwagte omstandighede jou by ’n nuwe toekoms kan uitbring.
Vanaf 16 Oktober tot 20 November 2022 beoog ons om in besonder stil te staan by dié veranderinge wat God in ons teweeg wil bring, sodat ons as sy kinders sy koninkryk prakties kan help uitbou. Ons nooi jou graag uit om in dié tyd by die volgende aanbiedings in te skakel:
- Eredienste: Kom beleef die ryke diversiteit van ons gemeente se lidmate. Tydens die vier Sondae vanaf 16 Oktober tot 6 November, wanneer die oggend- en familiedienste gesamentlik om 09:00 in die kerkgebou aangebied word, gaan ons aan die hand van Josef se verhaal op ons gemeentewaarde, om voortdurend te vernuwe, fokus. Die Annibrand-groepe (kategese) sal steeds tydens die feesmark voortgaan en na afloop van die oggenddiens in die kerk byeenkom. In die gees van die feesmarktyd gaan die Annibrand Junior-groepe ook op Bybelse feeste fokus. Kleuterkerk sal in die feesmarktyd, tydens die oggenddiens, in die feesmarktent aangebied word.
- Bybelskool: Die Bybelskoolkursus wat tydens Oktober- en Novembermaand aangebied word, sal handel oor hoe Paulus die uitdagings van verandering in die vroegste gemeentes moes hanteer.
- Gebed: Sluit gerus by ons gebedsgroepe aan. Op Donderdagoggende om 06:00 kom die mannegebedsgroep in die markplein byeen en op Dinsdagaande om 18:30 ontmoet die asemskepgebedsgroep in die kapel..
- Dankoffer: Op die laaste Sondag in Oktober begin die tradisionele tiendemaandinsameling. Oorweeg dit asseblief om buiten jou maandelikse bydrae, ook tot ons tiendemaandinsameling by te dra.
- Feesmark: Die feesmark begin op Maandag 17 Oktober tot Saterdag 5 November. Besoek gerus die feesmark op weeksdae vanaf 10:00 tot 20:00 en Saterdae vanaf 09:00 tot 18:00. Nooi asseblief jou vriende en familie om die projek te ondersteun en saam met jou in die restauranttent ’n maaltyd te geniet.
- Familiefees: Vanaf 18 tot 20 November word ’n familiefees met ’n gepaardgaande bedieningsmodel vir gesinne aangebied. Meer besonderhede oor die geleentheid sal nader aan die beoogde datum aan lidmate beskikbaar gestel word.
- Kerssangdiens: Sluit op Sondag 27 November om 19:00 by ons Kerssangdiens in die kerk aan.