
Gerda Engelbrecht, ’n jare lange lidmaat van die gemeente, is tans besig om vrou-alleen die Camino de Santiago af te lê. Dit is die vyfde keer dat sy die pelgrimstog aandurf. Sy stap die hele pelgrimsroete oor ’n periode van 40 dae en handhaaf ’n gemiddelde afstand van 20 km per dag.
Gerda is ’n Media24-werknemer en blokraaiopsteller. As deel van haar pelgrimstog deel sy haar daaglikse wedervaringe deur middel van kort video-insetsels met die lesers van Netwerk24. Indien jy ’n intekenaar van Netwerk24 is, gaan kyk gerus na Gerda se plasings oor al haar belewenisse op die pelgrimstog. Dit is daagliks op die tuisblad van die Netwerk24-toepassing beskikbaar, of onder die leef-afdeling. Stellenbergers sal die oefenroetes wat sy ter voorbereiding van die pelgrimstog gestap het, dadelik op die video-opnames herken.
Sy is tans besig met die eerste derde van die Spaanse roete. Sy het in St. Jean Pied du Port weggespring en moes sommer op die tweede dag van haar tog die allemintige Pireneë-bergreeks oorsteek. Om deur wonderskone woude te stap, pragtige natuurtonele te aanskou en die ryk geskiedenis van die pelgrimstog eerstehands te beleef, is egter ’n ryke belonging.
Sodra Gerda tuis is, sal Stellenberger haar vra om haar wedervaringe meer breedvoerig met al ons lesers te deel.