Gedagte vir die dag | Sondag 11 September 2022

Vandag is Sondag 11 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Die reeks ontgin ’n paar van God se beloftes. Die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.

Die vierde belofte waarna ons vandag kyk, is: God is aan ons kant (verse 31-34).

31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

Met hierdie gedeelte praat Paulus die Romeine moed in en spoor hulle aan om te volhard.  Hy motiveer hulle met die klem op die inwonende Gees wat nie net hulle van binne af transformeer nie, maar die hoop op ’n volmaakte toekoms laat behou. Mag jy vandag hoopvol vashou aan God wat vir jou is.

Gebed: Here, help my om nie in die vrese in my lewe vas te kyk nie, maar eerder aan u beloftes vas te hou. Dankie dat U altyd aan my kant is en dat enige reuse, uitdagings of teenstand saam met U oorwin kan word. Amen.