Die gemeente se aanlyn bediening wat tydens die Covid-19-inperking noodgedwonge op dreef gekom het, word steeds baie goed ondersteun.
“Ons ondervind dat eredienste wat weekliks direk uitgesaai word, deur gemiddeld 350 tot 400 persone aanlyn gekyk word,” sê ds. Marius Breytenbach. “Die wonderlike van die aanlyn bediening is dat mense wat nie binne ons gemeentegrense woon nie, nou die geleentheid het om na ons eredienste te kyk. Ek het onlangs na een van ons oggenddienste ’n vrou ontmoet wat vir my vertel het dat sy eintlik op ’n Karoodorp woon, maar dat sy weekliks by ons aanlyn dienste inskakel. Sy het gesê dat sy sodoende deel voel van die gemeente en toe sy daardie oggend die geleentheid gehad het om ’n erediens fisies by te woon, heeltemal tuis en gemaklik tussen ons lidmate gevoel het.”
Behalwe vir eredienste word die daaglikse geestelike dagstukke, wat deur die leraarspan saamgestel word, ook aanlyn beskikbaar gestel. Die dagstukke in geskrewe formaat, asook ’n stemopname daarvan, is op die gemeente se webwerf beskibaar en die stemopname kan ook op die gemeente se YouTube-kanaal geluister word. Die stemboodskap word ook per WhatsApp soggens aan diegene wat by die betrokke WhatsApp-groep aangesluit het, gestuur. Die dagstukke word daagliks deur 250 tot 300 persone geluister en dan word die geskrewe weergawe ook boonop deur heelwat mense gelees. Soos met die eredienste, word die dagstukke deur mense wat op ander plekke in die land en selfs buiteland woon, gelees en geluister. Sodoende het ons onlangs die mooi terugvoer van Marina Herbst, woonagtig in Indië, ontvang:
Ek wil vandag dankie sê vir hierdie dagstukkies wat julle plaas. Ons is môre twee maande in Indië en hierdie boodskappe hou elke keer vir my ’n persoonlike betekenis in. Dis nie vir my maklik hier nie, ek verlang na my kinders en mense en ons pragtige berg, maar ek glo ons is hier geplaas vir ’n rede en om ’n verskil te maak waar ons nou is. Liefde en vrede vir julle.
“Die kwartaallikse Bybelskoolkursus is ook aanlyn op ons webwerf en die YouTube-kanaal beskikbaar,” sê ds. Breytenbach. “Indien jy dus nie die kursus kan bywoon nie, of dalk een byeenkoms misloop, is dit maklik om dit aanlyn te kyk of ’n sessie aanlyn in te haal.
“Die vooruitgang in tegnologie en die voorreg wat ons het om toegang tot die internet te hê, bied vir ons ’n splinternuwe bedieningsmodel, waarvoor ek, die leraarspan en eredienskommissie baie dankbaar is. Ek glo die aanlyn bediening gaan net aanhou groei en dit is baie duidelik dat ons voortaan altyd prioriteit aan dié bediening moet verleen.”