“’n Volwaardige, volgrootte feesmark word vanjaar aangebied,” sê Karen Visagie en Lindy van Wyk de Vries, organiseerders. “Ons het soos in die verlede ’n volle 450 uitstallers en tente word weer ingespan om die uitstalruimte te vergroot. Die ingang na die mark sal by die markplein wees.”
Karen en Lindy is opgewonde oor ’n hele aantal nuwe uitstallers, asook ou bekendes wat met splinternuwe produkte vorendag gekom het. Daar is heelwat mansprodukte vanjaar, wat hopelik die soektog na ’n geskenk vir die mans in die familie heelwat sal vergemaklik.
Die spyse het nie agterweë gebly nie en ’n groot restaurantarea met sewe verskillende kosstalletjies word vir vanjaar se feesmark ingerig. Twee van die kosstalletjies gaan onder andere pannekoeke en roosterkoeke met soet- en soutvulsels bedien. Die ander sal heerlike pizzas, bagels en gourmet burgers te ete aanbied. Daar is boonop ook iets interessants vir diegene wat van ’n uitheemse geur in hulle maaltye hou, met kosstalletjies wat Meksikaanse asook Indiese geregte gaan bedien. Vir diegene wie se eerste liefde steeds lekker boerekos is, sal die boerekosstalletjie daagliks ou gunstelinge voorsit.
’n Plaaslike skoonheidsalon gaan boonop salonbehandelings op die perseel aanbied. Diegene wat graag ’n behandeling by Salon Benisse wil bespreek, kan hulle tydens die feesmark in die jeuglokaal besoek om ’n afspraak te maak.
Die feesmark word vanaf 17 Oktober tot 5 November aangebied. Besoek die feesmark weeksdae vanaf 10:00 tot 20:00 en Saterdae vanaf 09:00 tot 18:00. Nooi gerus ook vriende en familie uit om die gemeente se jaarlikse en grootste fondsinsamelingspoging te ondersteun. Die feesmarkinkomste word vir die gemeente se werksaamhede benut en ’n derde van die inkomste word aangewend ten bate van projekte wat dienste aan minderbevoorregte persone lewer. Krediet-, debiet- en Kaapse Verbruikerskaarte, asook SnapScan kan as betaalmiddel gebruik word.