Markus 1: 12-13. “Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is.”
Die gedeelte vertel die storie oor Jesus se versoeking in die woestyn. Dis ‘n kort gedeelte, maar ek dink tog baie troosvol. Want wat hier met Jesus gebeur, is ook wat met baie van ons gebeur. Dit is dat ons skielik in die woestyn gestoot kan word, dit wil sê onverwags en onbepland in situasies van groot pyn, ontwrigting en eensaamheid kan beland – soos wanneer ‘n siekte jou tref of ‘n verhouding skeef loop. Dat die Gees Jesus die woestyn binnegevat het om versoek te word, beteken nie dat God, Jesus en mense soos ons, doelbewus pyn wou aandoen nie. Wat ek dink waaraan die storie ons wil herinner is wanneer ons wel in ‘n woestyn is, dit ook soms ‘n geleentheid vir nuwe insig is, groter bevryding en selfs ‘n vars ontmoeting met God en ander kan word.
Die woestyn in die Bybel was nog altyd die plek waarheen God sy volk tot nuwe inkeer gelei het en om daar tot nuwe insigte te kom oor God se nabyheid.
Debie Thomas skryf: “In the startling economy of God, even a dangerous desert can become holy. Even our wilderness wanderings can reveal the divine. This is not because God takes pleasure in our pain, but because we live in a chaotic, fragile and broken world that includes deserts, and because God’s modus operandi is to take the things of shadow and death, and wring from them resurrection, new life.”