‘n Gebed van Ronell Bezuidenhout
Lewegewende God- U wat elke nuwe seisoen se kom en gaan bepaal;
Wat die winter tot ‘n einde laat kom en ‘n lente laat aanbreek;
Wat die tyd vir die boom aankondig om ‘n knop te stoot;
Die dag bepaal vir die bloeisel om oop te beur.
Dankie dat ek hierdie dag as die mooiste dag kan kroon.
Soos gister die mooiste dag was.
En môre dit ook sal wees.
Omdat dit U dag is.
Al weet ons dat die skielike verrassing van koue fronte weer gaan opdaag,
En wintersklere steeds voor in die hangkas kan bly hang,
Sing ek my lentelied vir U.
Hierdie is vir ons die seisoen van lewe en vernuwing.
Soos U gekom het om vir ons die lewe te bring, en dit in oorvloed.
So staan dit nie net geskryf in die blaaie van die Bybel nie ;
Maar is die belofte daarvan ook geskryf in elke nuwe blaar.
Gewer van lewe en Versorger, ook van my lewe –
Dankie dat ek die ontvanger van U genadegawes mag wees;
Ook die genade van nuutheid in die natuur.