Gedagte vir die dag | Donderdag 1 September 2022

Markus 10:46. “Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ‘n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” 48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” 49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.” 52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.” Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.”

Wat vir my uitstaan in hierdie gedeelte is die vraag wat Jesus vir Bartimeus vra. “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Jesus vra vir hom om sy diepste behoefte te verwoord. Aanvanklik sou mens dink dat dit voor die handliggend is wat hy wil hê Jesus vir hom moet doen. Hy is tog ’n blinde bedelaar, so natuurlik weet ons wat hy wil hê. Maar Jesus maak nie aannames nie, Hy vra hom in elk geval die vraag. Hy reduseer nie vir Bartimeus tot sy blindheid nie. Jesus gee gewig aan die kompleksiteit en volheid van sy menswees en is sensitief vir die feit dat hy verskeie behoeftes en begeertes mag hê.

As Jesus vir Bartimeus die vraag vra, nooi hy hom na eerlike selfondersoek. Jesus nooi Bartimeus op die reis van groei en heling. Wat is in jou hart? Wat is dit wat jy wil hê? Wat is jou diepste behoeftes?

Dit is ’n vraag wat jou nooi om eerlik en weerloos te wees en om te  vertrou. Dit is ’n vraag wat Jesus elke dag vir ons ook vra – mag ons dit waag om hierop te antwoord?