Gedagte vir die dag | Woensdag 31 Augustus 2022

Johannes 15:1-8 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

As God die wingerdboer is, Jesus die wingerdstok en ons die lote, wat vra die metafoor dan van ons – om te bly in hom. Om te vertoef, om vas te hou, om te kleef, om afhanklik te wees, om te aanvaar, om uit hou en vas te byt. Om ’n tuiste te vind.

Bly in my – dis ’n vreemde konsep. Aan die een kant passief en tog ook aktief. Om te bly is om te vertoef op een plek. Maar dis ook om te groei en te verander en om weerloos te wees. Want as ons bly gaan ons ook gesnoei word, ons gaan vrugte dra wat ander kan sien. Om te bly gaan ons ook nederig maak want ons welwees hang dan nie van onsself af nie. Om te bly, vra ook van ons om te bly saam met ander en ons gedeelde menslikheid te ontvang. Die metafoor nooi ons uit om ’n lewe saam met ander te leef.

Dis ’n moeilike metafoor om toe te pas in ons lewens veral in ’n verdeelte samelewing. Maar mag ons, ons onafhanklikheid opgee en ontdek dat ons onlosmaaklik deel is van God en ander mense se lewens. Dit is dan binne hierdie verhoudings  – uitdagend, morsig en mooi – wat ons vrugte dra wat ons met die wêreld kan deel.