Gedagte vir die dag | Dinsdag 30 Augustus 2022

 

Filippense 4:4. “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

Hierdie bekende versie herinner ons dat vreugde nie net ’n emosie of gevoel is nie. Dit is ’n keuse. Vreugde is ’n lewenstyl wat ons kweek. Ons dink dikwels dat emosies met ons gebeur, dat dit iets buite ons beheer is, maar emosies is ’n interne reaksie op die eksterne wêreld wat ons beleef. Tussen die eksterne belewenis van die wêreld en die interne reaksie is daar ’n klomp keuses wat ons onbewustelik maak – keuses wat bepaal hoe ons reageer op wat ons beleef. Paulus gee ons die opdrag om te kies om met vreugde te lewe.

Dink vir ’n oomblik na oor jou gemoed, hoe jy op hierdie stadium voel en watter emosies nou in jou hart leef?
Paulus sê dit ook nie net ligtelik nie, in maklike omstandighede nie. Paulus skryf die brief aan die Filippense terwyl hy in die tronk is en nie weet of hy lewendig daar uit gaan kom nie. Paulus se opdrag is nie maklik nie. Daarom sê hy ’n paar oomblikke later: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ons het die Heilige Gees nodig om wag te hou oor ons harte en ons gedagtes om te keer dat die wêreld nie ons vreugde by ons steel nie. Mag ons elkeen vandag kies om bly te wees, in alle omstandighede. Mag ons kies om die goeie nuus in ons wêreld raak te sien en te verkondig. En mag die vrede van God wag hou oor ons harte en gedagtes in Christus Jesus.

Gebed
Here, mag die goeie nuus van die evangelie werklik vir ons goeie nuus wees in alle omstandighede. Help ons om bly te wees en om met vreugde te lewe. Mag die vreugde in ons ook aan ander verkondig dat U werklik leef en dat u vrede en vreugde ook vir hulle is.

Amen.