Matteus 5:16. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Franciscus van Assisi het ’n bekende aanhaling wat sê: “Al die donkerte in die wêreld is nie genoeg om die lig van ’n enkele kers uit te doof nie.”
Wanneer lig die meeste nodig is – in die nag en die donkerte. Ons steek nie kerse aan of sit ligte aan wanneer die son skyn nie, maar juis wanneer dit donker word. Daar is ’n klomp dinge wat ons nie in die donkerte kan doen nie, waarvoor ons lig nodig het. Hierdie vers en die aanhaling van van Franciscus moedig ons aan om nie oorweldig te voel deur die donkerte in die wêreld nie, maar om dit juis as ’n geleentheid te sien om God se lig te laat skyn.
Met die eerste oogopslag kan ’n mens dink dat hierdie versie ons aanmoedig om goeie voorbeelde te wees, dat ander sal raaksien watter goeie mense ons is en sal sien dat ons goeie Christene is. As jy bietjie dieper daarna kyk en dink oor die aard van lig, dan lyk die prentjie ’n bietjie anders. Lig help ander mense om te sien. Om lig te wees beteken nie dat ander jou sal raaksien nie, maar dat jy ander sal help om beter te sien en hulle lewenspad sal verhelder. Om lig te wees beteken om weg van jouself te wys, sodat ander beter kan sien.
Gebed
Here, help my om vandag ’n lig te wees, wat ander help om beter te sien. Mag my lewe al hoe meer weg van myself wys en al hoe meer na U toe wys. Laat u lig deur my skyn.
Amen