Gedagte vir die dag | Vrydag 26 Augustus 2022

 

Johannes 15:9. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.”

Ons kan net gee wat ons ontvang het. In sy eerste brief, skryf Johannes “ons het lief, omdat God ons eerste liefgehad het.” Die liefde wat Christus by die Vader ontvang het, gee Hy weer aan sy dissipels en aan ons. En dan kom die opdrag: julle moet in my liefde bly.

Geloof word dikwels gedefinieer deur te sê waarin ons glo en waarin ons nie glo nie. Jesus gee vir ons in Johannes ’n ander definisie van geloof. Geloof is om verbind te wees aan die bron van liefde. Bly in my. Wat beteken dit vir jou om in Jesus se liefde te bly?

Jesus nooi ons uit om die liefde wat Hy vir ons gee, ook met ander te deel. Hoe kan jy vandag Christus se liefde vir iemand anders uitdeel?

Gebed

Here, daar is soveel dinge in ons wêreld, selfs in die kerk, wat verdeeldheid meebring. Help ons om in u liefde te bly, sodat ons een kan wees met U. Mag ek u liefde ook met ander deel, sodat hulle ook een kan wees met U.

Amen