Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Augustus 2022

 

Psalm 139:23-24. “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nieen lei my op die beproefde pad!”

Refleksie
Psalm 139 is ’n besonderse Psalm waar die skrywer sy hart oopmaak voor die Here. Dit begin met die woorde: “Here U sien dwarsdeur my, U ken my.” Daar is niks wat ons vir die Here kan wegsteek nie. Hy ken ons beter as wat ons onsself ken. Selfs die dinge wat ons eintlik nie teenoor onsself wil erken nie. Die Here sien deur daardie diepste dele van ons hart waar ons twyfel en onrustigheid leef.

Daarom het die Psalmskrywer ook die vrymoedigheid om die onrustigheid van sy hart te erken. Dit is ook ’n uitnodiging vir ons om dieselfde te doen. Waaroor is jy vandag onrustig? Wat dra jy in jou hart?

Die Psalmdigter besef ook dat die dinge wat in ons harte leef, die dinge waarvan ons oortuig is in ons diepste wese, nie altyd van die Here afkom nie. Vers 24 is ’n opregte gebed, een wat ons eintlik daagliks kan bid. Dit is ’n gebed wat sê dat ek gaan aanhou stap, ek gaan aanhou doen wat ek glo reg is, maar ook aanhou vra of ek op die regte pad is. Ek gaan nie stilsit en niks doen tot die Here vir my sê om te loop nie. Ek gaan in die geloof aanhou stap in die vertroue dat die Here sal kyk of ek nie dalk op verkeerde pad loop nie en dat Hy my op die beproefde pad sal lei.

Gebed
“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”

Amen.