Gedagte vir die dag | Sondag 21 Augustus 2022

Job 22:21 “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê.”

Ons ken Job se storie. ’n Opregte en regverdige man wat swaarkry beleef en dan deur sy vriende aangekla word dat dié lyding die gevolg is van ‘n onbelyde sonde. Job verdedig dan homself en bely dat hy ’n opregte mens is wat beter behoort te verdien. Een van sy vriende, Elifas reageer dan met die teksgedeelte: “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê”. Daar is net soveel wat ons nie in die lewe verstaan nie. Ten spyte dat geloof ons help om in die donker en onbekende van die hede en toekoms te leef, is daar soveel wat ons nie weet nie. Dit is die situasie waarin Job as gelowige en ons vandag vasgevang sit. Daar is ’n groot teologiese woord wat dit mooi saamvat – God is soewerein. Dit beteken dat Hy in sy almag en liefde vir die skepping nie toestemming van mense moet kry om God te wees nie. As ons God se grootheid bely, moet ons ook reg wees om die implikasies daarvan te aanvaar. Dit is dat God se gedagtes veel groter as ons eie is. Daarom die troos: Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef en voorspoed hê. En dit is presies wat toe met Job gebeur het. Hy het nie die antwoorde wat hy gesoek het ontvang nie, maar wel uiteindelik God se vrede.

GEBED

Here, help my om vandag weer met soveel dinge saam te leef wat ek nie kan begryp, of verklaar nie. My aard is om alles in die lewe haarfyn uit te werk en te beplan. Dikwels in ’n poging om my en ander die seerkry en swaarkry van die lewe te spaar. Maar seerkry en swaarkry is deel van die lewe. Dit het U ons reguit kom leer. Daarom vind my siel weer in hierdie dag vrede in U. Ek kom onderwerp my lewe aan U en wag geduldig dat U op U eie tyd my stukkie vir stukkie kom lei. Dankie dat ek nie in dit alles aan willekeur oorgelaat is nie, maar aan U grootheid.

AMEN