Gedagte vir die dag | Saterdag 20 Augustus 2022

 

1 Tim 6:11 “Maar jy moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding en minsaamheid.”

Waarvan vra die teks moet ons vlug? As ’n mens die hele teksgedeeltes lees lyk dit of die kwessie wat Timoteus aanspreek gierigheid is. In sy eie woorde: “soos wat ons met niks in hierdie wêreld ingekom het, kan ons niks ook daaruit wegneem nie”.  Alhoewel ons miskien nie dink dat ons gierig is nie, praat vandag se teks met ons oor ’n ontevredenheid wat ons dikwels in die lewe beetpak en min of meer dieselfde uitwerking op ons het. Dit gebeur maklik dat ons ons eie behoeftes en welstand voortdurend op die voorgrond plaas. Dit staan dan in ons pad om opreg te wees; om op ’n eenvoudige leefwyse aan God toegewyd te leef; om onseker omstandighede met geloof in te gaan; om liefde te kan betoon en onder moeilike omstandighede te volhard  omdat ons net fokus op ons eie welstand en behoeftes. Die geïrriteerdheid wat by ons ontstaan staan dan in ons pad om minsaam of aangenaam op te tree. Moenie toelaat dat die gevoel van hierdie gedagtes vandag jou lewe oorheers nie.

Gebed

Here, die wolke van geïrriteerdheid en ontevredenheid pak so maklik om ons saam. Ontevredenheid met hoe dinge om ons agteruitgaan en die pessimisme wat daarmee saam gaan belemmer ons uitsig. Help my om te midde van die mistigheid wat hierdie gedagtes en gevoelens bring, koers te kry. Help my om vandag te kies om met opregtheid, en toewyding aan U, met geloof en volharding te leef. Maak my bewus van die onaangenaamheid van my kortaf, haastige en gee-nie-om-houding nie. Dankie dat U in die koue winters van sulke fases in my lewe weer lewe en kleur na my bring.