Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Augustus 2022

Spreuke 3:6  Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

Daar is min mense wat gedissiplineerd genoeg is om te bid en dan op ‘n antwoord van die Here te wag.  Ons bid gewoonlik en dan neem ons ‘n besluit sodra ons dink ons het God nou gehoor, maar was dit regtig die stem van God.

God praat natuurlik op verskeie maniere met ons.  Partykeer gebruik hy mense om ons pad te kruis met ‘n antwoord, ander kere laat Hy die Heilige Gees toe om die antwoord in ons harte te plaas.  Dan is daar weer die kere waar jy jou antwoord in die Woord sal vind of d.m.v. ‘n boodskap wat iemand met jou deel.

Ons kan God egter met ons hele hart vertrou. Om die waarheid te sê, Hy is die enigste Persoon wat ons 100% kan vertrou. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Hy kan nie jok nie en maak nooit ’n belofte wat Hy nie nakom nie.

Moenie net op jou eie insigte staatmaak nie, maar ken God in alles wat jy doen. Ken God weer opnuut vanoggend deur Jesus Christus. Christus het vir my die regte pad vooruit gestap. God ken die groter prentjie en daarom kan ek hom volkome vertrou! Hy lei my op die regte pad, nie die maklikste pad nie, maar die pad waar ek moet wees. Leef daarom naby aan die Here, want Hy is by ons met sy Heilige Gees.

GEBED

Leer my, HEER, u regte weë, wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer, lei my dwalende gedagte;
want U is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte. (Psalm 25:2).