Filippense 2:5. 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.
Jesus het homself nie so belangrik geag dat Hy nie ander kon dien nie. Hy het die gestalte van ’n dienskneg of slaaf aangeneem. En vir ’n groot deel van sy lewe het Jesus aan ons kom wys wat dit beteken om ander te dien. Hy leer ons dat as ’n mens belangrik wil wees, dan moet jy ander dien. Die voorbeeld daarvan wat ons seker die beste ken was toe Jesus soos ‘n slaaf die voete van sy dissipels gewas het – met die opdrag: “Maak julle ook aan mekaar so”. In Sy diensbaarheid was Jesus ook aan God diensbaar. Hy het geleef wat die Vader van Hom verwag het. Jesus demonstreer wat die volmaakte dienskneg van die Here se gesindheid moet wees. Jesus se gehoorsaamheid en dienbsaarheid het hom ook die vreeslike dood aan die kruis gekos. Maar Hy was bereid om tot hier by die kruis en die aardse dood gehoorsaam te wees.
En nou kom vers 5: “dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. . .”
Hoe sou ons die gesindheid kon beskryf? Miskien moet ons sê dat hierdie gesindheid gegrond is in die feit dat ek myself moet leegmaak van alles wat ek is, sodat ek alles kan wees wat God vir my beplan.
- Ek moet dus my eie wil prysgee – en die wil van God soek.
- Ek moet my belangrikheid prysgee – sodat God deur my belangrik kan word.
- Ek moet my sin vir posisie prysgee – sodat God die ere posisie kan inneem.
- Ons moet die baie tyd en aandag wat ons bloot vir onsself gebruik prysgee – sodat ons tyd het om ander te dien.
- Ons moet die fokus op onsself prysgee – sodat ons op God en ander kan fokus.
- Ons moet leer om nie vas te klem aan onsself en ons dinge en wat vir ons belangrik is nie, sodat ons tyd en energie het om aan God se dinge en ons medemens se dinge aandag te gee.
GEBED
Here, ek wil graag die mooi gesindheid van Jesus Christus navolg.
Amen