Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Augustus 2022

 

Psalm 40:2 Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.

Die Psalmis is in die nood, en bely in die Psala dat hy homself nie kan help nie. Sy enigste hoop is dat die Here aan hom sal dink en hom sal red.  En sy versugting is dat die Here nie sal talm nie (vers 18).

Dit is waarom hy drie goed doen, waarmee ’n mens ook die boodskap van die Psalm kan opsom:

  • ONTHOU | vers 2-6: Hy dink terug aan sy vorige ervarings van redding en getuig daarvan. Hy gebruik die pragtige beeld van sy ervaring dat die Here hom uit die modder getrek het en op ’n vaste rots geplaas het. Dink ook vir ’n oomblik terug aan hoe God jou al gehelp het.
  • TOEWY | vers 7-11: Hy dink na oor wat Hy van God weet – dat die Here gehoorsaamheid van hom wil hê. Die Psalmskrywer wy homself opnuut aan die Here toe. Ons lees in vers 9  “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe”.  Gebruik ’n oomblik om jouself ook weer aan die Here toe te wy.  Besluit om waarlik volgens Sy wil te leef.
  • SMEEK | vers 12-18: Hy spel sy vasgevalde omstandighede voor die Here uit, en beroep hom op God se ontferming, liefde, trou, grootheid, hulp en redding. Praat ook met die Here oor jou uitdagings en gee dit aan Hom oor.

GEBED

Here, ek dank U dat U nog my lewe lank by my is, en vir my sorg. Ek wy myself opnuut weer aan U toe. Wees my asseblief genadig.

Amen