Gedagte vir die dag | Maandag 8 Augustus 2022

 

Vandag is Maandag 8 Augustus en ons is besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God wil laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat om God te beleef en deel van sy werk te word, vra ingrypende aanpassings.

Jesaja 54:2 “Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in”.

Wanneer God ’n menslike lewe aanraak, is dit tyd vir vreugde en is daar ’n verwagting vir die toekoms. In ons vers wat hierbo aangehaal word sê Jesaja jy moet plek maak vir God in jou lewe. “Maak jou woning groter”, want God se teenwoordigheid bring nuwe dimensies in jou lewe, jou familie en jou kerk. Jy kan nie slegs vir Christus byvoeg tot ’n besige skedule en dan gaan jy net gewoonweg met jou lewe voort nie. Wanneer Christus jou Here raak, verander alles. Jy kan verwag dat jou lewe ryker en voller gaan raak. Jy kan verwag dat God ander deur jou wil seën. Jy kan verwag dat God sy krag in en deur jou lewe wil laat vloei op ’n toenemende wyse.

Hoe sal jy op grond van jou lewensreis en ervarings dit beskryf om ’n lewende offer te wees? Watter aanpassings sal vir jou nodig wees ten einde jou lewe van heelhartige dankbaarheid in lyn te bring met Jesus se uiterste opoffering? Vgl Romeine 12:1-2.

Gebed: Here, wys my waar ek nodige aanpassings in my lewe moet maak en leer my wat dit beteken om myself as lewende offer vir U te gee. Amen.