Vandag is Vrydag 5 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God jou nooi om by sy werk betrokke te raak.
Filippense 2:13: “Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”.
God heers oor die heelal. Hy is al van die begin van geskiedenis af besig om sy doel en wil te bereik. Hy vra ons nie om sy drome vir hom te droom nie. Hy vra ons ook nie om ons beste vir hom te doen of ons hardste vir hom te werk nie. Hy nooi ons nie uit om ongelooflike en onbereikbare doelwitte te stel en dan te bid dat hy sal help om dit uit te voer nie. Hy het alreeds ’n plan, sy eie plan en agenda wanneer hy jou nader na hom toe roep. Laat hierdie waarheid in jou hart kom woon. God, oneindig wys en heerser oor die skepping, het alreeds ’n plan. En hierdie almagtige Koning van alle konings roep jou nader na Hom toe. Hy nooi jou uit om deel van sy koninkryksplan te wees in hierdie Koninkrykstyd. Wanneer Hy jou persoonlik uitnooi, dan is dit jou beurt om te reageer.
Gebed: Reflekteer vir ’n oomblik op dit wat rondom jou gebeur. Probeer om die dinge rondom jou te identifiseer wat God op die oomblik gebruik om jou na Hom toe uit te nooi. Bid oor elkeen en laat die Heilige Gees toe om vir jou verdere duidelikheid te gee oor dit waarna Hy jou uitnooi.