Vandag is Donderdag 4 Augustus en hierdie week is ons besig om na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God graag met in ’n persoonlike verhouding wat diep en eg is, betrokke wil wees.
In Matteus 22:37 antwoord Jesus met woorde waar Hy sê dat jy die Here jou God moet liefhê met alles wat jy is en het. Met ander woorde, niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Ware Christenskap is nie maar net ’n godsdiens nie; dit is ’n verhouding. God het die mens gemaak om ’n liefdesverhouding met Hom te hê. Meer as enige iets anders wil God hê dat ons Hom met ons hele wese moet lief hê. Hy is die een wat daarna smag en verlang om ’n liefdesverhouding met ons te hê wat standvastig en ewig is. Ons soek nie uit ons eie uit na God nie. Alles wat ons van God ervaar, vloei vanuit sy uitnodiging om Hom te leer ken en in verhouding met Hom te wees.
Hierdie intieme liefdesverhouding met God is terselfdertyd uiters persoonlik en prakties. Dit is ook die belangrikste faktor in ons verhouding met hom om hom te leer ken en om sy wil te doen. Die grootste waarheid in die hele Bybel is dit: GOD IS LIEFDE. Om hierdie waarheid te verstaan in al sy dimensies sal jou vrymaak om hierdie verhouding met God ten volle te ervaar.
Op watter maniere het jy God die afgelope tyd ervaar? En hoe is jy deur jou persoonlike verhouding met hom aangemoedig?
Gebed: Here, ek soek na U. Here, ek smag na U. Here, ek ken u Naam. Amen.