Gedagte vir die dag | Woensdag 3 Augustus 2022

Vandag is Woensdag 3 Augustus en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor gedagtes wat jou in jou verhouding met God laat groei. Ons kry regdeur die Bybel verskeie werklikhede hoe God ervaar kan word. Hierdie realiteite identifiseer maniere hoe God werk om mense deel van sy aktiwiteite te maak. Henry Blackaby skryf in sy boek, Experiencing God, dat God altyd aan die werk is rondom jou. Sjoe is dit nie mooi nie? Ons aanbid ’n God wat aktief besig is, rondom jou en tussen ons.

Handelinge 26:16 sê: “Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien”.

God het nie die wêreld geskep en dit toe aan sy eie lot oorgelaat nie. Regdeur die geskiedenis sien ons dat God aktief betrokke is in hierdie wêreld. Deur Jesus wil God hierdie wêreld herstel en mense in ’n lewende verhouding met Hom verbind. En hy wil mense deelmaak hiervan. Hierdie waarheid geld ook vir jou lewe. God werk aktief in die lewe van mense rondom jou, selfs al sien jy dit nie raak nie. Hy laat alles ten goede meewerk sodat hy jou kan gebruik. Mag God jou geestelike oë oop maak, sodat jy kan raaksien waarmee hy besig is en sy teenwoordigheid kan ervaar.

Hoe het God ander mense gebruik om jou lewe te verander? Hoe gebruik Hy jou om ander se lewens te verander?

Gebed: Here, dankie dat U rondom my aan die werk is. U het my nie nodig nie, maar U wil my hê.

Amen.