Gedagte vir die dag | Sondag 31 Julie 2022

 

Numeri 6:24-26. “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”

Gelowiges het mekaar nog altyd herinner aan die krag van die klein wonderwerke. Wanneer eenvoudige opmerkings of alledaagse gebeure ons verander en ons help om die lewe anders te sien. En ons help om onder die donker wolk waaronder ons soms leef, uit te skuif.

Iewers tussen die gewone, vind ons weer nuwe hoop en ‘n nuwe begin. Ek dink as ons oor ons eie lewe gaan nadink, sal ons ook stories kan vertel waar die alledaagse, die gewone wat ons lewens verander het. Waar iemand se opmerking of vriendelike woorde, ons gehelp het om verder te kyk as wat ons sien. 

Mag hierdie vlietende oomblikke wat ons soms so maklik afmaak as gewoon, ons inspireer om nie hoop te verloor nie. Mag ons op die uitkyk bly vir daardie klein, maar kragtige wonders wat ons lewe omring en kan verander.

Want hulle is altyd daar. Hulle wag net om gesien, omhels en ook gedeel te word.

Ek lees graag ‘n gebed van Carel Antonisse:

Here, ons God, u Woord verseker ons dat U elke dag by ons is om ons te verras en te troos met die wonder van lewe soos dit in die natuur, maar ook deur mense na ons kom. Help ons om dit vandag weer raak te sien en toe te laat dat dit ons verander.

Amen