Matteus 6:26 “Kyk na die wilde voels: hull saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle Hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”
Ek dink daar is baie dinge deur die loop van elke dag – struikelblokke – wat ons keer om teenwoordig te wees in die oomblikke van ons lewe. Om ‘n meer bewuste vol en gesonde lewe te voer.
Ek dink een van die grootste struikelblokke is vrees vir die toekoms en angs oor die dag van môre. Dit kan ons lewens heeltemal oorweldig, soveel so dat ons nie meer nugter kan dink nie. Ons verloor ons perspektief en sien nie langer die hoopvolle uitkomste wat wel in die hede op ons wag nie.
Baie van ons was al daar en ken die gevoel waar ons nie ons probleme in die oë wil kyk nie, maar eerder net wil weghardloop. Dit laat ons baie keer verlam en moedeloos.
Ek dink wanneer die gevoel ons oorval, is hierdie storie en woorde van Jesus ‘n uitnodiging en ‘n wekroep na die hede. Jesus nooi ons uit om meer bewustelik rondom ons te kyk na die wilde voëls en die veldlelies wat maar net dag na dag daar is.
Ek lees graag ‘n gebed van Carel Antoinissen:
Here ek sukkel vandag. Die angs en bekommernis het net te veel geraak. Dit dryf my tot raserny, maak my moedeloos. Selfs u woord maak vandag nie sin nie. Hoor tog waar ek nou na U roep. Gee tog ‘n uitweg.
Amen