Gedagte vir die dag | Woensdag 27 Julie 2022

 

Matteus 14:30-31. “Maar toe Petrus sien hoe sterk die wind is, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Dit bly vir baie gelowiges ‘n troos om te weet dat die Bybel ons daaraan herinner dat ons die las van wat bekend staan as kleingeloof, kan hê.

Die briefskrywer Matteus skyf baie oor hierdie tema en van die oomblikke en situasies waar die sigbare en uiterlike omstandighede drieg om mense te oorweldig en hulle geloof weg te kalwer. Soos die nag toe die dissipels op ‘n stormagtige see vir Jesus uitgeroep het om hulle te help en Petrus vir ‘n oomblik tussen die golwe van die onstuimige see verdwyn het. Dis dan wanneer jy die woorde hoor wat baie van ons ook al uitgeroep het: “Here red my!” In hierdie storie hoor jy dan Jesus se stem: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Carel Antonissen, ‘n teoloog skryf oor hierdie gedeelte en maak dan die opmerking dat kleingeloof nie noodwendig ongeloog is nie. Dit is wel ‘n gesplete of uitgerafelde soort geloof – een waarin jou aandag en vertroue nie meer volkome op Christus is nie. Wanneer jy toelaat dat jou omstandighede, siekte, bekommernis oor finansies, jou werk of kinders, die sterkste woord spreek. Wanneer dit die enigste en laaste woord is. Dis dan wanneer die geloof wat jy nog oor het, gewoon te swak of klein is. 

Ek dink dit herinner ons om elke dag vir God te vra vir meer geloof sodat ons kan bly vertrou dat Jesus se uitgestrekte en helpende hand nooit ver van ons is nie. 

Here, dankie dat u ons twyfel ken en steeds u hand na ons bly uitstrek

Amen