Kolossense 1:20 “en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”
Kolossense 1 nooi ons al hoe dieper in die misterie van Jesus Christus se bestaan in. In vandag se teks ontmoet ons weer die woord alles. Die misterie van God se menswording in Jesus Christus is groter as ons. Ons reduseer so dikwels die evangelie om te sê dat God mens geword om vir ons sondes te sterf sodat mense hemel toe kan gaan. Dit is verseker ook waar, maar hierdie vers nooi ons uit om bewus te word dat Christus se versoening vêrder as net die mens strek – Christus het gekom om alles op die aarde en in die hemel met Homself te versoen. Die goeie nuus van die evangelie is nie net vir ons as mens nie, dit is ’n kosmiese versoening van alles wat bestaan.
Ons kry hierdie visie ook aan die einde van Openbaring, waar die nuwe stad, Jerusalem, uit die Hemel neerdaal op die nuwe aarde. Ons sien dat, aan die einde van alles, ons nie opgaan hemel toe nie, maar dat hemel en aarde een word. In vandag se teks sien ons dat alles vir God belangrik is.
Waarvan maak hierdie gedagte jou vandag bewus? Wat beteken dit vir jou dat Christus alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen? Hoe dink jy kan ons deelneem om hierdie versoening sigbaar te maak?
Gebed
Here, ons sien so baie gebroke verhoudings, oorloë en ongeregtigheid rondom ons. Ons sien diere wat uitsterf en die skepping wat kreun as gevolg van die invloed van mense. Herinner ons vandag dat alles vir U belangrik is en dat U deur die kruis versoening gebring het vir alles op die aarde en in die hemel. Mag U ons lei om ook versoening te bring daar waar ons in die wêreld beweeg.
Amen.