Gedagte vir die dag | Sondag 24 Julie 2022

Kolossense 1:19. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon.

Hierdie kort versie dra soveel betekenis. Om te dink dat die oneindige grootheid en misterie van God ten volle mens geword het in Jesus Christus. Waar ons so maklik Gees en vlees, of materie van mekaar wil skei en selfs in boksies van goed en sleg plaas, word Gees en materie ten volle een in Jesus Christus. Hoe kan die volheid van God ten volle teenwoordig wees in een mens? Dit is die misterie van die inkarnasie.

Dit nooi ons ook uit om te vra: as dit waar kan wees in Jesus Christus, kan dit ook waar wees vir ons? Kan God ook ten volle in my teenwoordig wees? En wat beteken dit om ten volle een te wees met God? Jesus Christus kom wys vir ons die rigting op hierdie pad. Mag ons al hoe meer ontdek wat dit in my en jou lewe beteken. Mag jy verbind wees aan God en mag God in sy volle wese teenwoordig wees in jou.

Gebed

Here, help ons om waarlik een te word met u en met mekaar. Een in liefde, een van hart, een in strewe. Mag u ten volle teenwoordig wees in ons lewens en help ons om ten volle teenwoordig te wees in die wêreld. Sodat ons u koninkryk kan sigbaar maak, soos in die hemel, so ook op die aarde.

Amen