Kolossense 1:18. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.
Ons is besig met ’n reis in Kolossense 1 en in die paar dae het ons bewus geraak daarvan dat Christus se bestaan kosmiese belang het. Die verhaal van die Bybel gaan nie net oor ons as mense nie, maar oor die ganse heelal. Alles is aan Christus verbind. Vandag se teks nooi ons uit om ook groter oor die kerk te dink. Ons verbintenis aan Christus deur die kerk, verbind ons ook aan alles anders. Weereens skryf Richard Rohr: “I now wonder if a sincere person can even have a healthy and holy “personal” relationship with God if that God does not also connect them to the universal.”
Om ’n persoonlike verhouding met Christus te hê, beteken dat ons ook verbind word met Christus se teenwoordigheid in alles anders. Ek wonder hoeveel anders ons wêreld sal lyk wanneer ons hierdie waarheid werklik besef. Wat beteken dit vir jou om verbind te wees aan Christus? Hoe laat dit jou voel om te weet dat jy in Christus verbind is aan die ganse heelal?
Mag ons al hoe meer besef dat ons almal aan mekaar in Christus verbind is. Dat ons nie alleen in verhouding met God kan leef nie, maar dat ons verhouding met God ons aan die ganse heelal verbind. Mag ons onthou dat dit nie oor ons gaan en wat ons wil hê nie, maar dat Christus die hoof van sy liggaam is, dat Hy die eerste plek in die heelal inneem
Gebed
Here, maak my vandag bewus van die verbintenis tussen alle dinge, alles wat deur Christus bestaan en in standgehou word. Maak my bewus daarvan dat die manier wat ek lewe ook ander beïnvloed. Help my om so te leef dat ek ook help om alles tot ’n eenheid in Christus te bring.
Amen