Gedagte vir die dag | Vrydag 22 Julie 2022

Kolossense 1:17 Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Hierdie kort versie gee vir ons baie om oor na te dink. Een van die woorde wat uitstaan, is die woord alles. Dit is nie die eerste keer dat ons hierdie woord in Kolossense 1 ontmoet nie en dit gaan ook nie die laaste keer wees nie. Hoe groot is hierdie alles vir jou? Wat beteken dit as alles deur Hom in stand gehou word?

As ons eerlik is, is ons alles nie altyd baie groot nie. Ons sou graag ’n paar dingetjies wou uitsluit uit daai alles uit. Hierdie teks daag ons uit om groter te dink, om meer in te sluit en bewus te raak van die dinge wat ons eerder wil uitsluit. Alles bly in Christus in stand.

Richard Rohr skryf: “God loves things by becoming them.” Vandag se teks nooi ons uit om bewus te raak van die teenwoordigheid van Christus in alles rondom ons en te sien hoe alles in standgehou word deur die lewensenergie van Christus. Christus is teenwoordig – vir dié wat die oë het om te sien.

Gebed

Here, maak ons bewus van die teenwoordigheid van Christus in ons en rondom ons. Gee ons die oë om te sien dat U in alles teenwoordig is en dat alles deur U in standgehou word. Help ons ook om in ritme met die instandhoudingswerk van Christus te leef

Amen